Die

Afrikaner

Verklaring

Wat is die Afrikaner Verklaring?

Afrikaners is ʼn inheemse kultuurgemeenskap in Afrika. Ons mense en ons geskiedenis is hier en daarom wil ons ook werk vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons nageslag hier aan die suidpunt van Afrika. Ons wil in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe in Suid-Afrika praat en werk om oplossings te kry vir die veelvuldige krisisse wat ons almal se toekoms bedreig. Ons wil ook graag ʼn bydrae lewer tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Afrika.

Ons besef dat hierdie land ʼn komplekse verlede het. Daar was in die geskiedenis ernstige konflikte tussen gemeenskappe, en Afrikaners bejeën swart mense se ervaring van die verlede met erns. Die krisis in die land is só ernstig dat ons visie vir die toekoms sterker sal moet wees as ons geheue van die verlede. Ons moet steeds van tyd tot tyd in die truspieël terugkyk, maar ter wille van vooruitgang sal ons die reis na die toekoms net suksesvol kan aandurf as ons vorentoe deur die voorruit kyk. Ons mag nie toelaat dat ons in die hede só heftig oor die verlede twis dat ons die toekoms vernietig nie. Daarom moet ons bou op die voorbeelde van goeie verhoudinge en samewerking wat in die verlede tussen verskillende groepe bestaan het.

Daar word gevra wat Afrikaners benodig om blywend vry, veilig en voorspoedig saam met ander gemeenskappe in Suid-Afrika te kan leef sodat ons ook ʼn volhoubare bydrae tot die welstand van ander gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika kan lewer.

Die bondige antwoord hierop is dat ons normaliteit benodig, dit wil sê ʼn normale samelewing waardeur ons ʼn voorspoedige toekoms vir almal kan help verseker. Ons wil graag ons basiese uitgangspunte om so ʼn normale samelewing te vestig, kortliks uitstippel.

Die Afrikaner verklaring

01.

Afrikaners is ʼn inheemse kultuurgemeenskap verbind aan Afrika

Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons voorouers het eeue gelede uit verskillende Europese lande hiernatoe gekom, maar ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem. Afrikaners is ʼn self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – ʼn volk – en nie bloot ʼn taalgroep of ʼn rassegroepering is nie. Ons beklemtoon dat ons deur Afrikaans ook ʼn taalverbintenis het met die meerderheid bruin Suid-Afrikaners, asook met ʼn beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Ons respekteer hierdie ander Afrikaanse kulturele gemeenskappe en werk graag in alle toepaslike gevalle en sake met hulle saam. Ons kom uit ʼn Christelik-Westerse tradisie en vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms, veral in tye van nood. Die republikeinse ideaal het nog altyd sterk steun onder Afrikaners geniet, wat in die praktyk beteken het dat ons ons eie besluite oor onsself wil neem en uitvoer.

02.

Ons wil hier bly en bydra tot die welstand van die land en al sy mense

Ons is daarvan oortuig dat daar ʼn toekoms vir ons hier is. Daarom wil ons die omstandighede help skep dat Afrikaners volhoubaar en voorspoedig hier kan bly. Dit sal ons in staat stel om ʼn blywende bydrae tot die welstand van ander gemeenskappe te kan maak. Ons streef ook daarna om bande met die Afrikaner-diaspora te behou en hulle aan te moedig om betrokke te bly. Ons betreur dit dat van ons volksgenote teen hulle sin moes wegtrek omdat hulle nie meer ʼn toekoms hier gesien het nie.

03.

Samewerking is in die belang van almal se vryheid, veiligheid en voorspoed

Ons glo dat daar meer dinge is wat die land se gemeenskappe verenig as wat ons verdeel. Al deel ons nie altyd dieselfde sienings nie, deel ons kernbelange soos ʼn werkende land en ʼn gesonde samelewing waarin almal die geleentheid het om ʼn beter toekoms te bou. Ons is enersyds verbind tot die bou van ʼn hegte gemeenskap onder Afrikaners, en andersyds tot die uitbou van bande met al die gemeenskappe van Suid-Afrika om só ʼn voorspoedige lewe vir almal te help bewerkstellig.

Afrikaners is ʼn goed georganiseerde gemeenskap en sal graag die ruimte en geleentheid wil hê om ʼn bydrae te lewer om die krisisse aan te pak waarmee Suid-Afrika tans worstel. Ons glo dat samewerking tussen gemeenskappe, eerder as politieke mededinging, die oplossing vir goeie rassebetrekkinge is.

04.

Ons bou om te bly

ʼn Kultuurgemeenskap leef in en deur die instellings wat vir sy voortbestaan benodig word, en waardeur sy kultuur aan die volgende geslagte oorgedra word. Daarom bou ons aan ʼn kulturele infrastruktuur, leefruimtes, tuistes en instellings om hier in Suid-Afrika te kan bly. Die doel van hierdie kulturele huishouding is nie om onsself te isoleer nie, maar juis om dit moontlik te maak om saam met ander in suidelike Afrika te bly.

05.

Kulturele vryheid is ʼn voorwaarde vir demokratiese vryheid

Die land se getallewerklikhede beteken dat ons lewens op elke gebied deur die demografiese meerderheid oorheers sal word as ons nie kulturele vryheid het nie. Dit geld selfs vir die mees grondliggende sake wat ons voortbestaan raak. Meerderheidsoorheersing ten koste van minderhede is nie demokraties nie. Demokratiese vryheid kan slegs bewerkstellig word indien kulturele vryheid as ʼn noodsaaklike voorwaarde vir ons voortbestaan verseker word.

Kulturele vryheid is terselfdertyd ʼn voorwaarde vir ons moedertaal, Afrikaans, om as ʼn volle funksionele taal voort te bestaan.

Die erkenning van kulturele vryheid in die gestalte van kultuurverwante regte en ruimtes is ʼn voorwaarde vir die gelyke genieting van ons individuele regte. Sonder hierdie erkenning weeg die individuele regte van die demografiese meerderheid swaarder as die individuele regte van kulturele of nasionale minderhede.

Ons kulturele instellings soos skole, universiteite, vakbonde en dergelike ander skep vir ons die tuistelike ruimtes wat ons in staat stel om ons kultuur uit te leef. Ons ervaring is dat hierdie ruimtes voortdurend polities aangeval en deur wetgewing en politieke beleid in die gedrang kom. Daarom wil ons deur interne kulturele outonomie en inspraak in die owerheid verseker dat ons blywende demokratiese kulturele vryheid kan geniet. Wanneer ons met vrymoedigheid deur ons eie instellings aan ons kulturele lewe kan deelneem, is dit vir ons makliker om uit te reik na ander gemeenskappe en op hierdie manier samewerking te bevorder.

06.

Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe

Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe as die grondslag vir ons almal se deelname aan die groter mensdom. Ons sien onsself gelyk aan, en nie bo of onder ander gemeenskappe nie. Ons is geregtig op dieselfde regte, ruimtes en bevoegdhede as ander kultuurgemeenskappe, en dit sluit ʼn kulturele gebied in. Dit is nie ʼn vreemde eis nie. Die internasionale reg en die Grondwet van Suid-Afrika maak ook hiervoor voorsiening.

Ons onderskryf maatreëls om gelyke geleenthede vir almal te bevorder, maar ons verwerp die voortsetting van rassewette wat Afrikaners tot tweedeklasburgers aftakel en tot ongelyke burgerskap lei. Dit smoor ondernemende Afrikaners se vermoë en sluit hulle uit van die geleentheid om ʼn bydrae tot die opheffing en ontwikkeling van die land en al sy mense te maak. Die misbruik van hierdie rassemaatreëls het in baie gevalle ook gelei tot die verswakking van die openbare sektor en het selfs korrupsie in die hand gewerk. Die afskaffing van hierdie maatreëls sal die remme wat ekonomiese groei aan bande lê, help losmaak en tot die voordeel van die publiek in die geheel bydra. Rassewetgewing wat die klein persentasie Afrikaner-jongmense benadeel, maak geen verskil aan die groot meerderheid jong swart mense nie. ʼn Rassebedeling is nie versoenbaar met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie nie.

07.

Die verlede moenie ons almal se toekoms vernietig nie

Daar word gesê dat elke gemeenskap homself as die sentrum van die wêreld beskou en sy geskiedenis as die sentrale verhaal van die mensdom skryf. Dit geld ook vir die uiteenlopende geskiedenisbeskouings van Suid-Afrika se gemeenskappe, iets wat ons skerp kan verdeel. Ons erken die komplekse verlede en die nalatenskap van historiese konflik wat deels steeds voortleef. Ons betreur ook die feit dat inspirerende historiese voorbeelde van samewerking tussen gemeenskappe in Suid-Afrika vandag grootliks vergete is. Tog mag die verdelings van die verlede nie op so ʼn manier voortgesit word dat dit ons almal se toekoms vernietig nie. Daarom moet ons bou op die historiese voorbeelde van samewerking wat tussen gemeenskappe bestaan, eerder as om te bly vaskyk teen die geskiedenis van konflik.

Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan saamwerk om die krisisse waarmee ons vandag gekonfronteer word aan te pak. Ons kinders kan nie verwyt word vir wat voor hul geboorte gebeur het, terwyl baie regeringsleiers nie verantwoordbaar gehou word vir wat hulle vandag doen nie.

08.

Die Grondwet erken die strewe na grondgebied

Soos enige ander gemeenskap is daar nie presiese eenstemmigheid oor wat ons gemeenskap vir ʼn voorspoedige voortbestaan benodig nie. Desondanks bestaan die nodige demokratiese volwassenheid om nie dít waaroor jy verskil teen te staan nie. ʼn Wesenlike deel van Afrikaners steun die demokratiese ideaal van interne kulturele outonomie in Suid-Afrika. Daar is ook ʼn betekenisvolle groep wat ingevolge die republikeinse tradisie die standpunt huldig is dat kulturele vryheid sonder grondgebied sonder gronde is. Hoewel die ANC hierdie strewe al erken het, maak die regering dit in die praktyk baie moeilik om dit ten uitvoer te bring. Daarom word ʼn politieke oplossing hiervoor benodig. Spesiale kulturele sones met ʼn geografiese basis kan ʼn deel van die oplossing hiervoor wees, byna soos die kulturele gebiede van ander gemeenskappe in die land.

Die Grondwet bied wel ruimte hiervoor, soos die voorsiening wat dit maak vir verskillende vorme van interne selfbeskikking. Geen nasionale minderheid het die luukse om enige grondwetlike deur na groter outonomie self toe te maak nie omdat hy hom dan permanent afhanklik stel van die meerderheid.

09.

Eenheid in verskeidenheid

Versoening en nasiebou mag nie verskraal word tot inlywing by die ANC of ons demografiese inlywing by die meerderheid nie. Die geskiedenis wys dat so ʼn benadering eerder ʼn polariserende kulturele herlewing ontlok. Ons glo dat die erkenning van verskeidenheid die beste manier is om nasionale eenheid te bevorder. Dit is die sleutel tot eenheid in verskeidenheid. Ons steun nie die idee dat versoening afhang van die aanvaarding van ANC-beleid nie omdat so ʼn eis grondliggend ondemokraties sal wees, en die gelykheid en menswaardigheid van mense sal aantas.

10.

Owerheidsinspraak

Afrikaners word tans uitgesluit van openbare en kulturele inspraakstrukture, soos die erkende instellings van tradisionele gemeenskappe byvoorbeeld is. Daar moet kanale geskep word waardeur Afrikaners op nasionale vlak inspraak kan kry in sake wat ons gemeenskap en die land raak.

11.

Ekonomiese bemagtiging

Dit is noodsaaklik dat die armoede, werkloosheid, misdaad en die dergelike ander ernstige maatskaplike knelpunte wat die land teister, beslissend aangepak word. Afrikaners wil graag ʼn bydrae lewer tot die ekonomiese bemagtiging van arm mense. Afrikaners glo dat daar lesse vir vandag te leer is uit die geskiedenis van die ekonomiese en kulturele opheffing van Afrikaners.

12.

Kultuurverdrag

Vanweë ons posisie as ʼn permanente minderheid, is Afrikaners demokraties uitgesluit en sonder toegang tot die owerheid. Ons het geen ander kanale om met die regering te skakel behalwe as deur die howe, die media en openbare botsings nie. Dit lei tot konflik en ʼn verslegting van verhoudinge. ʼn Kultuurverdrag kan ʼn kanaal vir skakeling met die owerhede skep om knelpunte betyds te takel, ooreenkomste daaroor te bemiddel, en vertroue te herstel en op te bou. So ʼn verdrag behoort as minimum vereiste die bestaande kulturele regte en ruimtes in die Grondwet en internasionale reg te herbevestig. Afrikaners se aansprake op en ons beklemtoning van regte en belange moenie in isolasie gesien word of as spesiale behandeling geag word nie. Ons vind aansluiting by die ruimte wat die Grondwet bied en ook by internasionale gevestigde konvensies wat regte aan kultuurgemeenskappe verleen en verpligtinge op state plaas. Dit sluit in die reg van ʼn kultuurgemeenskap om te bestaan; die reg op instellings waarin en waardeur hulle kan leef en waar kultuuroordrag kan plaasvind; die reg op die ontwikkeling van kulturele gebiede; en die vrystelling van onbillike rassebepalings wat die uitoefening van hierdie regmatige strewes kan dwarsboom.

Ons is van mening dat ons hierdeur ons standpunte gestel het, asook wat ons nodig het om hier voort te bestaan. Daarmee het ons ook ons bona fides as Suid-Afrikaners bevestig.

Onderteken die Verklaring?

Mediaverklaring

Gesamentlike Afrikaner Verklaring by die 30-jarige herdenking van Suid-Afrika se grondwetlike bedeling

ʼn Leiersnetwerk van verskeie Afrikaner-organisasies, -netwerke en -individue reik hierdie gesamentlike verklaring uit om ʼn pad vorentoe uit te stippel in die lig van die ernstige krisis waarin die land en die Afrikaner-gemeenskap verkeer. Die Afrikaner Verklaring spruit uit ernstige kommer oor die versnelde staatsverval in die land, ons ervaring dat die ANC belangrike dele van die 1994-skikking verbreek, en die voorneme van Afrikaners oor ʼn wye spektrum om saam opbouend aan oplossings vir ons eie gemeenskap én vir die land te werk.

Die erns hiervan blyk daaruit dat dit die eerste gesamentlike verklaring vanuit Afrikanergeledere sedert 1994 is. Hoewel die ondertekenaars nie voorgee om namens alle Afrikaners te praat nie, doen ons dit minstens ten behoewe van die nagenoeg twee miljoen mense wat deur hierdie organisasies verteenwoordig word. Die Verklaring spruit uit gesprekke tussen verskeie Afrikaner-organisasies, -leiers, -netwerke en -individue wat sedert 2021 gereeld vergader het om oor Afrikaners se toekomstige rol en plek in die land te besin.

Terwyl Afrikaners die afgelope 30 jaar hulself deur verskeie organisasies beywer het vir die beskerming van Afrikaners se regte en vryhede, en bygedra het tot die welstand van die land in geheel, was een leemte dat daar nie ʼn gemeenskaplike benadering was nie. Ons kon nie ons standpunte met een stem teenoor ʼn toenemend afsydige en selfs vyandige regering stel nie. Onder hierdie omstandighede het verskeie organisasies in ons geledere die pad met groot welslae begin stap om self op te tree, en selfversorgend en onafhanklik van die staat en regering voort te gaan, omdat ons nie ʼn ander keuse gehad het nie. Hierdie strewe na selfstandigheid het vorme van selfbeskikking, die bevordering van Afrikaans, sosio-ekonomiese projekte, kulturele ontwikkeling, voedselsekuriteit en fisiese veiligheid ingesluit.

Ons gesprekke het daartoe gelei dat ons die noodsaak van ʼn gesamentlike openbare verklaring onderskryf waarin ons ons gemeenskaplikhede eerder as ons verskille kon beklemtoon. Dit kan gevolglik gesien word as die eerste eenheidsverklaring sedert die aanvang van die nuwe bedeling, hoewel dit steeds voorsiening maak vir ʼn veelheid van menings.

Ons reik die Afrikaner Verklaring uit met die volgende drie doelwitte:

  • Ons wil hê alle Suid-Afrikaners moet kennis neem van die gesindheid en goeie trou van Afrikaners.
  • Ons wil hê soveel moontlik ander Afrikaner-organisasies, -netwerke, -leiers en -individue moet die Verklaring onderteken.
  • Ons wil die regering oortuig van die noodsaak om ʼn kultuurverdrag met Afrikaners te sluit, ter wille van stabiliteit en tot voordeel van die land en al sy mense.

Ons is hier om te bly!